JOIN OUR MAILING LIST
Newsletter / Blog


2016-06-19
Behaal sukses met jou webwerf


Sukkel u om sukses met u webwerf te behaal. Dit is eerstens belangrik om te verstaan hoe die internet en webwerwe werk. Ek hoop hierdie artikel help so bietjie om te veruidelik hoe mens suksesvol op die internet kan wees.

SOEKENJIN OPTIMISASIE (SEO)

Webwerwe soos Google, Yahoo en Bing is soekenjins. Soekenjins het grootliks die tradisionele manier van die soeke na produkte of dienste vervang. Vandag hoor ons dat iemand gou sal Google vir dit of dat. Wanneer iemand ‘n Google soek doen word Google se indeks van die wêreldwye web deursoek vir die bes moontlike passende resulate. Dit is belangrik om daarop te let dat Google se indeks deursoek word en nie die wêreldwye web (www) nie. Dit is dus belangrik om vir Google te vertel van jou nuwe webwerf indien jy enigsens jou hoop daarop wil vestig om “Gegoogle” te word. Google Webmaster Tools is die geskikte instrument om Google te vertel van jou webwerf en om te sien hoe sien Google jou webwerf.

Wanneer Google jou binne sekondes jou, jou soekresultate gee word daar eerstens advertensies getoon. Dit is mense wat by Google adverteer. Tans is die eerste 4 plekke op Google soekresultate vir advertensies gereserveer by Google. Die groot voordeel van Google advertensies is dat jou webwerf vertoon word op die oomblik wat ‘n persoon op soek is na ‘n spesifieke produk of diens en nie soos ‘n Televisie advertensie aan jou getoon word terwyl jy eintlik na ‘n fliek of sport gebeurtenis wil kyk nie. Gevolglik behoort Google advertensies baie meer effektief te wees as enige ander vorm van advertensies. Dit is dus nie ‘n raaisel hoekom Google vandag een van die wêreld se mees bekende handelsmerke is en waarom sy aandele honderde biljoene dollars werd is nie.

Die beste soekresultate word onder die advertensies vertoon. Om jou webwerf vir soekenjins te optimiseer beteken dat jou webwerf so bes moontlik op soekenjins se soekresultaat bladsye onder die advertensies sal vertoon. Daar is meer as 200 faktore wat Google in ag neem wanneer besluit word watter webwerwe en watter bladsye van daardie webwerwe vertoon sal word. Google sal slegs daardie bladsye van jou webwerf wat aan sy kwaliteit standaarde voldoen by sy indeks insluit. Belangrike faktore om in ag te neem hier is om byvoorbeeld nie inligting vanaf ander webwerwe te kopieer nie maar om jou eie oorspronklike en unieke inligting te gebruik wanneer die inligting van webwerwe saamgestel word.

Vir die meeste besigheidseienaars is tyd geld. Dit is slegs die super rykes in hierdie wêreld vir wie tyd en geld nie saak maak nie. (Webwerf ontwerpers word dikwels gekonfronteer met mense wie dink dat die internet en hul splinternuwe webwerf hul maklike sleutel is na die soeke van onbeperkte geld of tyd.)

Vir jou webwerf om goed te presteer op soekenjins verg harde werk, tyd en gewoonlik geld. Dit is veral waar vir kompeterende bedrywe waar daar baie besighede is wie meeding vir spasie op die voorblaaie van soekenjins. ’ n Goeie voorbeeld is byvoorbeeld besighede in die toerisme bedryf. Daar is besighede soos byvoorbeeld dokters en tandartse wie nie soveel kompetisie op die internet het nie maar dan weer is hierdie diensverskaffers reeds so besig dat hul nie eens die moeite doen met ‘n webwerf nie. Vrae gerus vir iemand met ‘n seer wortelkanaal, wat eintlik dringende mediese aandag verg, wie ‘n paar dae moes wag vir ’n afspraak of daar te veel tandartse is.

Die voorgaande voorbeeld bring ons by ‘n belangrike onderwerp wanneer dit kom by soekenjin optimisasie of geld maak op die internet. Enige besigheid moet in die eerste plek ‘n lewensvatbare produk of diens in die eerste plek aanbied. Dit wil sê ‘n produk of diens waarvan daar ’n groot genoeg vraag is. Webwerwe soos Google Webmaster Tools of Google Analytics is uitstekende marknavorsings hulpmiddels wat vir jou ‘n goeie idée sal gee van hoeveel mense op soek is na sekere produkte of dienste. Soms gebeur dit dat mense nuwe produkte of dienste uitvind waarvan die name of gebruike nie so bekend is nie en kan daar nie so baie staatgemaak word of SEO as ‘n bemarking strategie van jou besigheid se webwerf nie.

SEO is slegs een strategie om jou webwerf te bemark. Jou webwerf kan ook op besigheidskaartjies, die gedrukte media, radio of televisie of deur persoonlike mededeling bemark word. Baie webwerf eienaars se grootste frustrasie is dat hulle nie goed genoeg doen op soekenjins se resultaat bladsye nie en dit is die onderwerp van hierdie artikel.

Wat is die redes hoekom sekere webwerwe goed doen en ander nie goed doen nie? Of anders gestel wat kan ‘n besigheidseienaar doen dat sy webwerf beter sal presteer as die van die kompetisie.

In die eerste plek moet goeie resultate , die eerste bladsy van Google behoorlik en realisties gedefinieer word. Indien jy byvoorbeeld ‘n “bakkie bouer” is wat ietsie van alles doen en jou webwerf dit reflekteer kan jy nie verwag dat jou webwerf beter gaan doen as spesialiste binne die “bakkie bouer” bedryf nie. Voorbeelde van sulke spesialiste is byvoorbeeld mense wie spesialiseer in die installering van gelamineerde vloere. Webwerwe wat op spesifieke onderwerpe fokus gaan in die algemeen beter doen as webwerwe wat ‘n te wye reeks produkte of dienste aanbied.

Vir sekere besighede kan dit beter wees om eerder twee of drie webwerwe te bedryf wat fokus op spesifieke produkte of dienste wat ‘n noue verband met mekaar het. Daar is byvoorbeeld baie mense in die sekuriteits bedryf wat benewens elektriese heinings ook sekuriteits kameras verkoop en instaleer, dikwels ook alarm sisteme. Wanneer ‘n mens ‘n Google soek gaan doen omdat jy ‘n elektriese heining wil oprig gaan jy byvoorbeeld intik “Pretoria + Sekuriteits Heinings” . Jy gaan nie sommer intik “Sekuriteitsmaatskappy Pretoria” nie. Nee mense is op soek na spesifieke produkte en dienste wanneer hulle dit nodig het. ‘n Onderneming wat byvoorbeeld spesialiseer in sekuriteits heinings alleen se webwerf gaan uitsluitlik daarop fokus. Op ‘n natuurlike manier gaan die woord sekuriteits heining relatief baie voorkom binne die webwerf teks in die algemeen en sal soekenjins weet dit is waaroor die webwerf gaan.

Die aantal kere wat ‘n word voorkom binne webwerf teks is slegs een van die 200 faktore waarna Google kyk maar dit is ‘n belangrike faktor. Soekenjins kan ook bepaal of die inligting van ‘n kwaliteit webwerf kom en of dit dalk kom van ‘n lae kwaliteit webwerf waarin daar slegs ‘n klomp woorde gedruk is. Sulke webwerwe word soms in geheel van Google se indeks verwyder.

‘n Baie belangrike ander faktor waarna Google kyk is die hoeveelheid kwaliteit webwerwe met skakels na jou webwerf. In die verlede het mense probeer kortpad vat deur ‘n hoë aantal lae kwaliteit skakels te koop na hul webwerf. Google het hierdie praktyk kortgevat deur webwerwe te penaliseer wat sulke gebruike toegepas het om soekenjins te manipuleer. Dit is steeds egter ‘n belangrike faktor. Op die minste behoort jou sosiale media bladsye jou webwerf se adres in te sluit. Sekere aanlyn gidse byvoorbeeld in die toerisme bedryf is ‘n plek waar aanvaarbare kwaliteit skakels na jou webwerf gekoop kan word.

 

 

Die pad na goeie soekresultate vir jou webwerf is nooit maklik nie. Dit is egter nooit te laat om te begin nie. Hier is ‘n paar basiese wenke wat na ons mening die belangrikste praktiese wenke is:

  1. Doen die basiese dinge eerstens goed

Baie eienaars van webwerwe spandeer hopeloos te veel tyd en geld aan die grafiese ontwerp van die webwerf terwyl die inhoud van die webwerf nie behoorlik aandag kry nie. Sluit woorde in jou webwerf teks in waarvoor jy graag gevind wil word. Doen dit op die belangrikste plekke op jou webwerf byvoorbeeld jou Tuisbladsy en Meer oor ons bladsy se inleidende paragraaf. Oorweeg die opskrifte van jou webwerf. Google is logies en dit behoort vanselfsprekend te wees dat opskrifte belangrike kern woorde sal insluit.

  1. Registreer by Google my business

Behalwe dat jy op Google Kaart soekresultate sal verskyn sal dit jou help met jou webwerf se SEO. Dit is vinnig, verniet en maklik om te registreer by Google my business. Vir Google is plaaslike soekresultate belangrik en daarom sal jy dikwels onder die advertensies Google Kaart resultate sien. As jy op soek is na ‘n Tandarts en jy is in Kaapstrad soek jy nie ‘n Tandarts in Pretoria nie. Jy het nie eens ‘n webwerf nodig om jou besigheid by Google my business te register nie

  1. Wees realisties

Doen gerus ‘n paar soektogte waarvoor jy graag gevind wil word en bestudeer die webwerwe wat goed doen op soekenjins. Jy sal jou kompetisie se webwerwe vind. Let op hul hoeveelheid teks, of hulle spesialiseer in die produkte of dienste wat hul aanbied. Het hulle ‘n gereelde blog of uitgebreide veelgestelde vrae en antwoorde afdeling? Jy sal ‘n realistiese beeld he van wat jou te doen staan om tussen hulle te verskyn. Indien jy nie ‘n goeie skrywer is nie sal jy professionele skrywers wat SEO verstaan moet huur om die werk namens jou te doen. Daar is nie ‘n kortpad na goeie SEO resultate nie.

  1. Gebruik Google Webmaster Tools

Google Webmaster Tools is verniet en is nie moeilik om te gebruik nie. Enige webwerf ontwerper wat sy sout werd is sal jou daarmee kan help. In die eerste plek sal jy jou webwerf aan Google kan bekend stel. Indien jou webwerf nut is met mind ander werwe wat daarheen skakel sal die soekenjins se programme jou nie gereeld besoek nie en jy moet Google dus versoek om jou webwerf te besoek en te oorweeg om jou bladsye te indeks.

  1. Neem ‘n langtermyn houding aan

Daar is ander maniere om jou webwerf te bemark as soekenjins. Ongelukkig is ouderdom ‘n belangrike faktor wat soekenjins in ag neem en moet mens geduldig wees. Indien jy blog of ‘n maandelikse nuusbrief skryf doen dit ook vir ander redes soos om byvoorbeeld in kontak te bly met potensiële kliente. Jy sal weldra die resultate ook vind by soekenjins.